R50m se Crystal Meth in vragmotor gekry
Die man wat gearresteer is, sal voor die landdroshof in Aliwal-Noord verskyn.

Die beslaglegging op ‘n besending Crystal Meth met ‘n waarde van R50 miljoen binne die eerste 24 uur nadat ‘n gekoördineeerde interprovinsiale misdaadbekampingsoperasie geloods is, is vanmiddag wyd geloof. Polisielede in die Vrystaat, Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap neem deel aan die operasie.
Polisiewoordvoerder kapt. Loraine Earle sê speurders en Misdaad Intelligensie lede van Aliwal-Noord was vanoggend betrokke by ‘n opsporingsoperasie toe inligting ontvang is van ‘n vragmotor wat vermoedelik dwelms tussen Smithfield en Aliwal-Noord vervoer. Die vragmotor is deursoek waarop 12 groot sakke Crystal Meth gekry is wat ‘n gesamentlike 313,5kg geweeg het.

Daar is op die dwelms en die vragmotor beslag gelê, en ‘n 35-jarige man van Gauteng gearresteer, wat ook die bestuurder en eienaar van die vragmotor is.
